Vaarwelpolisiekar – ‘n eerste poging tot musiekverslaggewing

FullSizeRender[1]

Ek het vir my ‘n staanplek oopgeskrop rég voor die verhoog. ‘n Man moet immers die eerste een wees om te sien wat gebeur wanneer jou gunsteling Afrikaanse-band-wat-opgebreek-het-maar-nou-weer-hervorm-het-vir-‘n-kort-toer-deur-die-VK-en-Nederland die dag hulle ding doen. Die sowat 300 siele in die Clapham Grand het pas klaar gesmul aan ‘n Van Coke Kartel-voorgereg, maar dis duidelik dat hulle hier is vir die hoofgereg en dat die intensie is om hulle daaraan te vervreet.

My gedagtes word onwillekeurig teruggevoer na die jaar 2004, waar ek op ‘n stowwerige plaas buite Northam, in die Noordwes-provinsie, die eerste keer my kykers op die Fokofpolisiekar-fenomeen geslaan het. Ek was verstom deur wat ek aanskou het – 5 Afrikaanse outjies wat The Strokes soos nerds laat lyk. Francois en Wynand wat soos besetenes tekere gaan en energie opwek wat die skare soos ‘n voorhamer tref. ‘n Moshpit wat die onlustepolisie met die hande in die hare sou laat. Tallose gesigsuitdrukkings iewers tussen verskriktheid en ‘n diepe tevredenheid. Kortom, ‘n properse Afrikaanse punkrock band wat skaamteloos die grense van Afrikaanse musiek uitvee, en op hul eie terme besluit waar die nuwe grense getrek sal word. Al my sintuie is daardie aand oorrompel en ek het gewéét dat die Afrikaanse musieklandskap nooit weer dieselfde daar sou uitsien nie.

‘n Gejil en ‘n gefluit ruk my uit my dagdroom. Die bende verskyn op die verhoog en sonder seremonie styg die nou bekende Fokof-klank uit die luidsprekers op. “Prioriteit nommer een, kom lewendig hier uit” bulder dit uit honderde kele. Dis voor die handliggend dat die partytjiegangers hier teenwoordig élke woord ken en vasbeslote is om op die mees luidrugtige wyse uiting te gee aan die nostalgie wat Fokofpolisiekar in hulle losmaak. Wanneer die eerste note van ‘Brand Suid-Afrika’ deur die lug skeur, raak dit mal. Die moshpit vergroot eksponensieel totdat dit bykans die hele vloeroppervlakte bedek. ‘n Drietal jongmans gaan aan’t headbang en vir ‘n oomblik vrees ek dat ten minste een van hulle onherstelbare skade aan sy nekwerwels gaan opdoen.

Die een treffer volg moeiteloos op die ander. Die ou gunstelinge, ‘Vernietig Jouself’, ‘Hemel op die Platteland’, ‘Maak of Braak’ en ‘Tevrede?’ bring (as dit moontlik sou wees) ‘n ékstra-intense beroering onder die skare mee. “Iemand gaan nóú uitpass”, dink ek, maar gelukkig bly dit net ‘n gedagte. Jaco ‘Snake’ Venter pas behóórlik lyfstraf toe op sy dromstel, Francois wikkel en wriemel soos ‘n eksotiese slang (‘n óú laai van hom), Wynand dans ‘n riel met sy baskitaar en spoeg water in die lug op die regte oomblikke, die enigmatiese Johnny staar soos altyd na sy tone en Hunter se krullebol wip ritmies op die maat van die musiek. Ah, goeie ou Fokof-vibes…of is dit?

Die tempo neem genadiglik af voordat iemand weens loutere uitputting die lewe laat. ‘Morningstar, Durbanville’ is ‘n interessante keuse in ‘n speellys van slegs dertien snitte. ‘Skyn (Heilig)’ is hoendervleismateriaal – verbeel ek my of het ek sopas ‘n volwasse man in trane sien uitbars? ‘Illusie van Veiligheid’ doen presies wat dit sê, voordat die 4×4-maatslag van ‘Kyk Noord’ en ‘Antibiotika’ weer die Clapham Grand aan die keel gryp en dié keer weier om te laat los. Soos gebruiklik kom die bende se gelyknamige tjoen laaste aan die beurt en, soos altyd, ontketen dit ‘n koorsagtige geskud van elke ledemaat denkbaar. Met dosyne arms (en hier en daar ‘n been) in die lug, vloei die lirieke “en nou’s dit ses jaar later, en soms voel als nog steeds dieselfde” oor die moshpit.

Maar dit voel nie meer dieselfde nie…

Ek kan nie my vinger daarop plaas nie, maar iets skort. Kyk, laat ons nie doekies omdraai nie – die plek kóók en daar hang ‘n atmosfeer in die lug wat grens aan anargistiese genoegdoening. Lekker ja, maar heeltemal standaard vir ‘n Fokof-gig. Wat my ontstem, is die knaende gevoel dat die ouens net deur die motions gaan, soos ‘n geskeide paartjie wat ‘n voorafgereëlde okkasie saam moet bywoon. Die ongelukkige feit van die saak is dat Francois en Wynand (Van Coke Kartel), Hunter en Johnny (Die Heuwels Fantasties) en Snake (aKing) nié meer ‘n bende is nie en na alle waarskynlikheid nooit weer een sal wees nie. Dis deur geknersde tande dat ek moet toegee: wat my aanbetref het die Fokof-chemistry verdwyn.

Die laaste note van ‘Fokofpolisiekar’ verdamp in die lug. Die moshpit is in delirium. Snake gooi oudergewoonte ‘n paar dromstokkies die skare in. Hunter en Wynand wuif koninklik voor hulle van die verhoog af verdwyn. Al wie oorbly is Francois en Johnny en onder die begeleiding van Johnny se kitaar val Francois weg met ‘n hartroerende weergawe van ‘Tiny Town’. Ek kry ‘n knop in my keel wanneer hy sing: “…soet slaap sonder sonde vanaand”

Hoeveel keer vantevore het ek nie al geluister hoe hierdie lied die energie wat deur die voorafgaande uur se mannewales opgewek is, saamvat en dan soos confetti oor die skare laat neerdaal nie? In die verlede het dit ‘n gevoel van euforie by my laat onstaan. Vanaand voel ek nostalgies en afgemete. Dit sal nooit weer 2004 wees nie. My gunsteling Afrikaanse band in die héle wêreld sal nooit weer die grense van Afrikaanse musiek verskuif nie. Ek sal daaraan gewoond moet raak dat ‘n Fokof-gig in die toekoms sal wees soos om jou gunstelingfliek vir die sóveelste maal te sien – steeds bevredigend, maar sonder verrassings. Vaarwelpolisiekar.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik in Junie 2011 as ‘n konsertresensie in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.