Oor ‘n Poolse pelgrimstog

22a

Dag 1 en 2

Op verreweg die meeste dae gebeur daar niks wat die moeite werd is om oor huis toe te skryf nie. Maar die laaste twee dae was anders. Ek het besluit om myself te bederf met ‘n mini-pelgrimstog Pole toe. En nou volg ek in die voetspore van Nazi’s, Sowjet-troepe en heldhaftige Poolse opstandelinge (as jy Roman Polanski se The Pianist gesien het sal jy weet waarna ek verwys).

Ek mis egter my gereelde reisgenote. Noudat my klein rakker nie in die omtrek is nie, is daar skielik niks meer om op film vas te lê nie! Maar die ergste is dat ek niemand het om mee te geséls nie…nee kyk, ek sukkel met die shniesh-shniesh-shnieshery van die plaaslike bevolking. Die een voordeel is egter dat, na twee dae se eksklusiewe internalistiese gesprekvoering, al my verskillende persoonlikhede nou al die geleentheid gehad het om hulle onderskeie sê’s te sê, so als is nou weer mooi gebalanseerd hier op die boonste verdieping.

Net kortliks my indrukke oor Warskou: op 1 September 1939, toe die Nasties, ag ek bedoel Nazi’s, Poland binnegeval en daardeur die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog ontketen het, was daar 1.3 miljoen mense hier woonagtig. Teen die einde van die oorlog, April 1945, was daar skaars 1000 burgerlikes wat steeds hier rondgedwaal het. Die stad was ‘n ruïne, gelyk met die grond gebombardeer. Daarna het vyf dekades van onderdrukkende Sowjet-oorheersing, en die gepaardgaande Kommunistiese indoktrinasie, gevolg.

Ek is daarom meer as aangenaam verras deur wat ek hier aangetref het. Soos ‘n feniks het imposante wolkekrabbers, verleidelike stadspleine en multi-verdieping inkopiesentrums uit die puin verrys. Ek het weliswaar ‘n paar, uhm, aweregse karakters hier teëgekom, maar dis mos maar die ding van ‘n stadslewe – dit maak party mense mal. Die oorgrote meerderheid Warskouers is egter stylvol, supercool en, sover ek kan aflei, 100% Westers – só anders as wat ek verwag het.

Hoe dit ookal sy, ek sit nou en wag om ‘n vlug na Krakow, in die suide van Poland, te bestyg. En môre is ‘n groot dag in my lewe, want môre word ‘n inskrywing op my emmerskoplysie geskrap…

 

Dag 3

Auschwitz-Birkenau: die vergestalting van boosheid.

 

Dag 4

Ek het gewéét dinge was besig om nét té goed te gaan. Dit was immers al dag 4 en ek het nog niks verloor, gebreek, beseer of verpas nie.

Tot gistermiddag – toe ek my vlug na Warskou (en by implikasie Londen toe ook) verpas het. Anders as gewoonlik kon dié stand van sake nie aan ‘n onbesonne aksie van my kant af toegeskryf word nie, en as ‘n resultaat kon ek ‘n ekstra aand, met komplimente van die lugdiens, in Krakow spandeer. Als goed en wel, maar nou het ek te kampe met die moeder van alle eerstewêreldse probleme – ek moet dieselfde hemp vir die tweede agtereenvolgende dag dra. Shock. Horror.

Maar wat ‘n belewenis was Krakow nie! In teenstelling met Warskou het Krakow die Nazi-aanslag sonder ‘n skrapie oorleef, wat meebring dat die stadskern, met sy eeue-oue geboue, in sy oorspronklike vorm bly voortbestaan.

Die mense hier is ook merkbaar meer vaardig met Engels, wat beteken dat hulle aansienlik meer geselserig is. In Warskou het ek in alle opsigte net myself vir geselskap gehad. Van die sekuriteitswag by die lughawe wat met sy liggaamstaal aangedui het dat my navraag oor die naaste OTM hom koud laat, tot by die ontvangsdame by die hotel wat my in (hoogs amuserende) gebaretaal laat verstaan het dat ek om 7:00 kan gaan aanmeld vir ontbyt, was alle vorme van gesprekvoering ‘n aansienlike uitdaging.

En toe arriveer ek in Krakow, waar die draaipunt in my Poolse geselsondervindings sommer met die taxi-bestuurder ‘n aanvang geneem het. Wat hy na dese van my af weet, is negeerbaar, maar ek weet ALLES van hom af. Asook van sy vrou, sy kinders, Pole se geskiedenis, die kleur en tekstuur van die perfekte sopie vodka, veranderende reënvalpatrone in sentraal-Europa, sowel as die redes vir sy keuse van loterynommers. Op daai stadium was enige geselskap egter welkom…en mens weet in elk geval nooit wanneer kennis oor veranderende reënvalpatrone dalk jou lewe kan red nie.

So, nadat ek omstreeks 22:00 by my hotel gearriveer het, het ek besluit om gou ‘n draai oor die stadsplein te gaan loop. Op die halfverligte, grootliks verlate plein was ek nét besig om die ikoniese St.Mary’s kerk uit die perfekte hoek te betrag, toe ek die vrouestem hier neffens my hoor. ‘Hello,’ het sy gesê. ‘Where are you from?’ Onder normale omstandighede sou ek nogal agterdogtig gewees het indien ‘n vreemdeling my só tromp-op sou loop, maar synde ek my in Krakow bevind het, en die mense hier, soos ek kort tevore met die taxi-bestuurder uitgevind het, meer verwelkomend as in Warsaw is, en ek in elk geval uitgehonger was vir geselskap, het ek besluit om maar saam te speel. ‘South Africa,’ sê ek toe. Sy was beslis nie wat ek sal beskryf as ‘mooi’ nie, maar sy was ook nie heeltemal afskuwelik nie. ‘n Stewige 5/10, as ek nou eerlik moet wees. ‘Are you here on holiday or business?’ Vakansie. ‘Alone?’. Jip. En toe sê sy iets wat die gevaarligte laat flikker het: ‘you wanna go for a drink?’ Uhm, nee dankie.

En toe laat val sy die bom: ‘you want a good time?’

Ek moes seker gevlei gevoel het deur dié toenadering. Vrouens van die nag het darem hulle standaarde ook. Maar in my naïewe onskuld het dit eenvoudig gevoel of ek gemolesteer is! Kyk, ek’s altyd te vinde vir ‘n goeie tyd, maar hoe goed is ‘n goeie tyd as dit gevolg word deur HAGS – herpes, aids, gonorrhoea en syphilis?

Ek het haar aanbod met ‘n vriendelike ‘no thanks, I’m not into that kind of thing’ van die hand gewys, en sommer dadelik begin spore maak. My nuwe vriendin het egter merkwaardige determinasie gewys en my op ‘n drafstap begin volg. ‘Just one drink, just one drink,’ het sy ‘n halfdosyn kere gepleit. En dis toe dat ek ferm raak (nee, nie op dáái manier nie) en haar, wel, in haar maai in stuur.

Drie blokke verder het ek eers behoorlik tot verhaal gekom. Ek kon nie gló wat sopas met my gebeur het nie! Dat ‘n naïewe, onskuldige seun soos ek deur só ‘n sedelose tert geteiken moes word! Maar ‘n klein biertjie het my darem gehelp om oor die ergste skok te kom, en nadat ek behoorlik gekalmeer het, het ek ‘n strategie begin ontwikkel vir die volgende keer wat só iets oor my pad kom.

En volgende keer sal ek dinge anders benader. Volgende keer sal ek meer voorbereid wees. Volgende keer sal ek nie my foute herhaal nie. Volgende keer, ja volgende keer, sal ek, voordat ek enige oorhaastige besluite neem, ten minste eers vir ‘n pryslys vra…

 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.