Oor ôsim verskynsels in die Vaderland

Osim

Newton of Nietzsche of so iemand het eenkeer bevind dat daar ’n onbetwisbare korrelasie bestaan tussen die gelukstaat waarin ’n nasie hom bevind, en die omgangstaal wat deur die lede van daardie nasie gebesig word. Met my vorige besoek aan die Vaderland was die algemeen aanvaarde byvoeglike naamwoord van keuse die skaflike, dog ietwat verbeeldinglose ‘naais’. Die weer was naais. ’n Braai was naais. Die rugby was naais.

Maar intussen is ‘naais’ opgegradeer tot die spoggerige, blinkgepoetsde ‘ôsim’. Die zeitgeist word kragdadig vasgevang deur hierdie toevoeging tot die leksikon, want jy sien, deesdae is niks meer bloot naais nie, maar ô-s-i-m! Die weer is ôsim, ’n braai is ôsim en selfs die rugby is ôsim! Mag die voorspoed jou verveel? Watwou! Mag die ôsimnis jou verveel!

En dinge daar ís grootliks ôsim. Padgebruikers se onberispelike maniere…Boney M-liedjies oor die radio…vrouens met interessante name soos Wynanda, Antonelle en Quenteline…

Maar die ôsimste van als bly die mense. Lékker mense. Vriéndelike mense. Soms amper óórvriendelike mense.  Veral die manne by die rooi ligte wat snuisterye van ’n duisend variëteite aan jou probeer verkwansel. Dáái kêrels sal jou sonder uitsondering groet, spontaan oor jou welstand uitvra en meer dikwels as nie ’n kwinkslag laat val oor jou kar se L-nommerplaat, want “my friend, I’m also from Limpopo!”. Arme hulle.

Checkers se checkout-cherries, aan die ander kant, word nié aangestel op grond van hulle kliëntediensvaardighede nie. Maar bygesê, dis nie asof hulle glád nie wil gesels nie. Dis net dat hulle nie met jóú wil gesels nie. Die geselskap van die kollega agter die buurtoonbank word soos klokslag opgesoek, en selfs ‘n supervisor kom lê gereeld oor vir ’n geselsie.

Op ’n Kululavlug gaan dinge ook nog jollie-patrollie. Dis ’n gelag en ’n gesels en ’n gekorswel uit ’n ander wêreld. Flou grappies en al. Anders as ’n dekade of twee gelede is ’n minimumlengte egter nie meer ’n voorvereiste om ’n lugwaardin te word nie. Deesdae is ’n minimumsitvlakwydte die maatstaf waarvolgens jy gekeur word al dan nie. Solank jy (al is dit net-net) deur die gangetjie kan skuur, staan jy ’n kans om ’n salaris by Kulula te verdien. Maar ten minste is die glimlag net so breed soos daai agterstewe. Wat ôsim is.

’n Spesie wat beslis nié die ôsimnis-toets slaag nie, is die nors beamptes wat jou geld by die tolhekke steel…ag ek bedoel insamel. Jy kan maar netsowel die outomobielweergawe van die Vlieënde Hollander bestuur, want die oë agter daardie ‘borrelende’ persoonlikhede kyk na jou, maar hulle sien jou nie. Groet jou nie. Bedank jou nie. Wens jou nie ’n voorspoedige reis toe nie. Niks. Hulle is sekerlik ôsim mense wanneer hulle by die huis is, maar hulle beroepsvoorligtingmenere het hulle waaragtig van slegte raad bedien.

Maar dís juis die land se grootste bate. Die mengelmoes, die verskeidenheid, die variasie. Van kulture. Van voorkeure. Van persoonlikhede. En hoewel daar nog baie werk is om te doen, word elke geit en gier van elke Jan Rap en sy maat toenemend aanvaar en, meer belangrik, ’n plekkie in die son gegun. En dít, vriende, is waarlik die definisie van ôsimnis.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.